Ons is wat ons eet. En ja, dis meer as net ’n lekker sêding, skryf JAMES BLIGNAUT, wat betrokke is by die
“Heal the Land. Heal the People”-inisiatief.
https://www.vryeweekblad.com/menings-en-debat/2020-07-22-gesonde-grond-gesonde-kos-gesonde-mense/
EK asem diep in en my neusgate vul met herinneringe. Die rook van jou braaivleisvuur trek diep in, tot by die wortels van my menswees, en bevestig die sterk band tussen jou, my, ons, wie ons as mense is en wat ons eet. Die geur word aangevul deur druppende vet, sissende vleis en brandende hout. Nou gaan ons BRAAI!
Die braai is nie net idiomaties van vriendskap nie, maar verbind ons ook met waar ons vandaan kom, wat ons reeds gedoen het en waarheen ons op pad is. Die braai gaan oor soveel meer as net die vleis; dit is oor die samekoms, die vriende, die musiek, die mosaïek van die lewe self. Die braai is ryk in kos, ryk in tradisie, geborge in tydloosheid.
Dit is hierdie verband tussen kultuur en kos wat ek elke jaar op 18 Junie onthou met die viering van die Dag vir Volhoubare Gastronomie. Op dié dag word die kuns en wetenskap onthou en gevier van gesonde eetgewoontes wat die sjef, die boer, die professionele persoon, die armlastige, ons tradisies en ons gesondheid saamsnoer.
Dit herinner ons aan die feit dat kos ons met ons verlede verbind, en dit verbind ons met ons kinders en ons toekoms. Die braai herinner ons dat kos alle geestelike, emosionele en biofisieke grense oorsteek. Almal van ons moet eet, en eet gaan oor samekoms en samesyn. Dit is hierdie verband tussen kultuur en kos wat ek elke jaar op 18 Junie onthou met die viering van die Dag vir Volhoubare Gastronomie.
Kos verbind ons nie net op emosionele en geestelike vlak met onsself en mekaar nie, maar raak ook ons gesondheid. Ons kan nie gesonder wees as die kos wat ons eet nie. Die gehalte van die kos wat ons eet, is die grens of beperkende faktor van ons gesondheid. As ons byvoorbeeld kos met ’n lae pH (3-5) eet, soos die meeste koeldranke, kitskos en voorafbereide maaltye, sal ons ’n toestand genaamd asidose – suurvergiftiging – kry.
Asidose word verbind met sowel asemhalings- en metaboliese probleme soos kortasemheid, ’n verhoogde hartklop, naarheid, spiertrekking en/of -swakheid, hoofpyne, lomerigheid,verwarring en verlies aan bewussyn.
Kos is letterlik in ons bloed
Aan die ander kant, as ons vars kos vol voedingstowwe eet, sal ons liggaam reageer deur die suurstofryke rooibloedselle te genees. Hoe meer suurstof, hoe gesonder is die spiere en die liggaam en hoe beter voel en funksioneer ons. Die feit is dat kos letterlik in ons bloed is.
Die reistog van gesonde kos, eet en gesonde mense begin lank voor die maaltyd. Die reistog van kos begin in die grond.
Daar is grond en dan is daar grónd. Vrugbare grond is verryk met biljoene bakterieë, fungusse en mikro-organismes wat stilweg en onsigbaar, maar kliphard en suksesvol werkskaf. Hoe gesonder die grond, hoe groter is die getal lewende gemeenskappe organismes daarin en hoe gesonder is húlle.
Dit lei daartoe dat die grond se vermoë om water te hou, verbeter en dit meer vrugbaar is. Die menigte organismes in hierdie wonderwêreld onder die oppervlak dra die voedingstowwe in die grond aan die plant oor.
Hoe meer organismes daar is, hoe meer voedingstowwe word na die plant oorgedra. Hoe hoër die voedingstofopname van die plant, hoe gesonder is die plant en hoe meer voedingstowwe is daar in die oes, die vrug, die gras of wat ook al geproduseer word vir die verbruik van mense of diere.
Maar dan is die reistog nog nie oor nie; dit word net meer opwindend. Dit beweeg aan van die bakterieë en organismes in die grond wat die plant voed na die bakterieë en organismes in die mens se ingewande wat as die eerste verdedigingslinie in ons immuunstelsels ons gesondheid in stand hou.
Gesondheidsreis begin in die grond
Nie net lei gesonde kos tot ’n gesonde spysverteringstelsel nie, maar ’n gesonde spysverteringstelsel help die liggaam op sy beurt om die voedingstowwe in die kos te absorbeer. En só begin ons gesondheidsreis ook in die grond.
Van gesondheid van die grond tot gesondheid van die kos tot gesondheid van die mens: Hoe moet die proses begin word? Dit begin met mense wat omgee vir mekaar, vir die natuur, vir die grond en wat bestuursgewoontes het wat lewe regenereer.
Nie net lei gesonde kos tot ’n gesonde spysverteringstelsel nie, maar ’n gesonde spysverteringstelsel help die liggaam om die voedingstowwe in kos te absorbeer.
Dit is werklik heel eenvoudig: Wanneer die plaas bestuur word op ’n manier wat nuwe lewe in die grond blaas, sal daardie lewe aan die plant en aan die kos en aan ons oorgedra word. Sulke bestuursgewoontes sluit permakultuur, bosweiding en bewaringslandbou in. Boerderypraktyke soos geen bewerking, dekgewasse, wisselbou, tussengewasse, komposvorming, die integrasie van lewende hawe, mobiele dierskuilings en weidingsbestuur.
Dit is ’n sistemiese benadering waar al die eksterne insette soos plaagdoders, kunsmis en fossielbrandstof tot ’n minimum beperk word tewyl afval verminder en herwin word en biodiversiteit in die plaas se produksiestelsel ingebring word.
Lewegewende eienskappe en prosesse
Boerderypraktyke wat só lewe regenereer in so ’n benadering spaar geld en moeite. Nodeloos om te sê dat hoe meer kos verwerk word, hoe verder beweeg ons weg van die grond, ongeag hoe gesond die grond is. Hoe minder kos verwerk word, hoe nader is ons aan die grond en sy lewegewende eienskappe en prosesse.
Gesonde grond, gesonde mense, oftewel “Heal the land, heal the people”. Dis meer as net ’n lekker sêding. Dit is ons lewe. Dit is ons toekoms. Daar is heelwat om oor te dink oor hoe ons ons kos verbou, versprei, verwerk, voorberei en geniet. Hoe nader ons aan die bron van ons kos is, hoe nader ons aan die plaas en die regenererende boerederypraktyk is, hoe gesonder is ons.
Namate regenererende prosesse die grond en sy mense gesond maak, word die herstelvermoë van die sosio-ekologiese ekosisteem versterk. Die sosio-ekologiese ekosisteem is hierdie wisselwerking tussen mense en die natuur en tussen mense en natuurlike organismes wat lewe moontlik maak.
Eenvoudig gestel: Hoe meer diversiteit daar in die grond is, hoe meer diversiteit is daar in die mens se spysverteringstelsel en hoe beter is die kollektiewe vermoë om siektes en omgewingsrampe te weerstaan. Ekologiese, sosiale en finansiële gevare, hetsy dit enige virus, wanvoeding of klimaatsverandering is, word dus getemper.
Helaas begin ook ’n groot aantal van ons ekonomiese en finansiële reistogte in die grond. Dit is dus nodig om ook daad by die woord te voeg en in die herstel van ons pragtige land se grond te belê.
Die rook van die braaivleisvuur herinner my dat die reis van die vleis, die pap, die drinkgoed en die bykosse verbind is aan my gesondheid en wie ek is en ons gemeenskaplike blootstelling aan gevare. Om na die grond om te sien, is om na onsself om te sien.
* Prof. James Blignaut is buitengewone professor aan die Skool vir Openbare Leierskap aan die Universiteit Stellenbosch en ere-navorsingsgenoot van die Suid-Afrikaanse aardwaarnemingsnetwerk (SAEON).
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!
Recent Comments